Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 20 OKTOBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

VERGEET OM U SARL LEDEGELD TE BETAAL?

HET U NA DIE RaDARVIDEO GEKYK?

WAT KOM UIT DIE BOPUNT VAN 'N DONDERSTORM?


DIE SUID-ATLANTIESE ANOMALIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

VERGEET OM U SARL LEDEGELD TE BETAAL?

Die SARL het gedurende die afgelope week 'n finale faktuur aan lede gestuur wat nog nie hul ledegeld betaal het nie. Baie dankie aan al die mense wat gereageer het met hul betaling en nou weer aan boord is. As jy nog nie jou ledegeld betaal het nie, betaal dit asseblief voor 31 Oktober om te voorkom dat jou naam uit die lidmaatskapregister verwyder word. Sou jy versuim om dit te doen , sal jy toegang tot die slegs-lede gedeelte van die webwerf verloor en sal nie Radio ZS en ander dienste ontvang nie. As jy besonderhede oor hoeveel, en hoe om te betaal benodig, skskel Mariska Maandag by 011 675 2393. Om die SARL met jou lidmaatskap te ondersteun, is om amateurradio te ondersteun. Dit is werd om dit te doen.

HET U NA DIE RaDARVIDEO GEKYK?

In verlede week se SARLNUUS het ons 'n skakel ingesluit na 'n video ter bevordering van RaDAR. Het jy daarna gekyk? Dit is die soort video wat vir jou groot pryse kan wen in die videokompetisie. Besoek www.amateurradio.org.za vir besonderhede aangaande die kompetisie.

Gaan kyk na die RaDARvideo en maak gereed vir die wedstryd op 2 November. Die RaDARwedstryd is 'n gebeurtenis wat gemik is op die benutting van vinnig ontplooibare amateurradiostasies. Die wedstryd is oop vir alle gelisensieerde radioamateurs. 'n Deelnemer kies voor die wedstryd een van die gedefinieerde kategorieë om aan deel te neem. Die puntestelsel is gestruktureer om bedryf van veral draagbare stasies aan te moedig.

Die wedstryd sal gehou word op 2 November 2013. Dit begin om 14:00 UTC en eindig om 18:00 UTC. Alle amateurbande, behalwe die WARC-bande, word toegelaat, insluitende kruisbandkontakte deur amateurradiosatelliete. GG, ESB, AM, FM en enige digitale modus word toegelaat, maar QSO’s deur herhalers op die aarde sal nie toegelaat word nie.

Kyk na die promosievideo op “Amateur Radio Today” se bladsy op www.sarl.org.za.

WAT KOM UIT DIE BOPUNT VAN 'N DONDERSTORM?

In die afgelope dekades het navorsers ontdek dat daar 'n paar vreemde dinge gebeur in die wolkpieke of hulle bopunte. Hoog bo die gewone weerlig skiet eksotiese vorms bekend as rooi spookagtige verskynsels en blou elwe na die hemel, koue familie van die vuurslae hier onder. In sommige plekke vlieg strale antimaterie boontoe en sneller die detektors op NASA se wentelende hoë-energie sterrewagte, soms so dikwels as 500 keer per dag. Die aarde boots dan kortliks 'n supernova na deur die vervaardiging van 'n kragtige ontploffing van gammastrale bekend as 'n aardse gammastraalflits (of TGF - terrestrial gamma-ray flash).

Niemand weet presies hoe hierdie verskynsels aan mekaar of aan die weerlig onder hulle verwant is nie. 'n Nuwe eksperiment genoem "Firestation" aan boord van die ISS het ten doel om dit uit te vind. Firestation is 'n pakket van sensors wat ontwerp is om die verband tussen TGF’s, gewone weerlig en verskynsels te verken.

Die ruimtestasie se wentelbaan sal Firestation dra tot direk bokant duisende aktiewe donderstorms gedurende die eenjaar leeftyd van die eksperiment. In teenstelling met vorige eksperimente in die boonste atmosferiese weerlig, het Firestation die unieke vermoë om donderstorms op verskeie golflengtes gelyktydig waar te neem. Dit kan die elektrostatiese-radioruis van weerlig opneem, die optiese glans daarvan meet (insluitend die rooi en blou lig van verskynsels en elwe) en ook die gammastrale en elektrone wat verband hou met TFG’s en antimaterie gebeurtenisse opneem.

AMSAT VIER 30ste HERDENKING VAN AMATEURRADIO SE BETROKKENHEID IN BEMANDE RUIMTEVLUGTE

'n Spesiale hoogtepunt van AMSAT se ruimtesimposium vanjaar, en Jaarvergadering, is die viering van die 30ste herdenking van die amateurradiobetrokkenheid in bemande ruimtevlugte, soos dit ontwikkel het in 'n suksesvolle program aan boord van die internasionale ruimtestasie.

AMSAT se ruimtesimposium en jaarvergadering vind van 1 tot 3 November in Houston, Texas, plaas. Ter erkenning van die 30ste herdenking van die bemande amateurradio in die ruimte, sal 'n spesiaal uitgenooide paneel op Saterdag 2 November as 'n deel van die simposium se groot banket optree. Die paneel sal bestaan uit die voormalige ruimtevaarder Owen Garriott, W5LFL, en ander belangrike individue wat hierdie wonderlike program aangevoor het.

DIE VIERING VAN DIE EERSTE ZL-DX-PRESTASIES

Oktober was die begin van 'n viering in Nieu-Seeland van die vroegste dae van DX. Na die Tweede Wêreldoorlog en die verskuiwing van radioamateurs na die sogenaamde nuttelose korter golflengtes, het ‘n tydperk van ongelooflike radioeksplorasie gevolg.

News Line berig dat amateurs in Nieu-Seeland onder diegene aan die voorpunt van hierdie aktiwiteit was met die eerste ZL na Australië QSO in April 1923. Dit is gevolg deur die destydse wêreldrekord-afstand QSO’s tussen Nieu-Zeeland en Argentinië in Mei 1924, Nieu-Zeeland en Kalifornië in September 1924 en Connecticut op die Amerikaanse ooskus net enkele weke later. Dan is daar ook nog die uiteindelike vroeë ZL=DX kontak van Frank Bell, Z4AA, en sy QSO met Cecil Goyder, G2SZ, in Londen, Engeland op 18 Oktober 1924.

Om die 90ste herdenking van die rekordbrekende aktiwiteite van hierdie vroeë pioniers van amateurradio te vier, sal ZM90DX van Oktober hierdie jaar tot 31 Oktober 2014, op al die bande van 1,8 MHz tot 1,2 GHz op al die modusse, op die lug wees. Die “Kiwi DX Group”, 'n informele groep van DX'ers en wedstryd-entoesiaste, het ZM90DX geaktiveer en dit sal deur stasies regoor Nieu-Seeland gebruik word. Ter herdenking sal ‘n spesiale QSL-kaart, saam met 'n toekenningsprogram vir kontakte met dié land, gedurende dié tydperk, beskikbaar wees.

Nie net sal ZM90DX aktief te wees op verwagte tye, en op die verwagte bande nie, maar in die gees van die vroeë pioniers sal die operateurs ook CQ roep op onverwagte bande en rigtings. Dit word gedoen met die bedoeling om die grense van die radiovoortplanting te verken.

LIDMAATSKAP

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is ontvang van Ivan Marks, ZS1ZX. Enige besware teen die aanvaarding van Ivan se aansoek moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

Tot hede het meer as 1400 lede hulle lidmaatskap van die SARL hernu.

Gedurende die week het Coalfields Radioklub, ZS6CRC, en Potchefstroom Amateurradioklub, ZS6POT, by die SARL geaffilieer.

JOTA EN CQ HOU KOERS

Die Voortrekkers en Padvinders Suid-Afrika bedank graag die SARL asook elke radioamateur wat hulle gehelp het om CQ Hou Koers en JOTA 'n sukses te maak. Dit gee jongmense en die algemene publiek goeie blootstelling aan amateurradio. Hulle is ook dankbaar vir elke radioamateur wat die moeite gedoen het om met die jongmense te gesels.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak gematig gaan wees. Daar is 'n moontlikheid vir 'n paar M-klas fakkels gedurende die week.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 57.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die nuwe webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
22 Oktober – H19:00 in die 9de Benoni Padvindersaal, Ebenezerweg, Benoni.
31 Oktober – Logstate vir Antieke Radiovereniging se buis QSO-party moet ingestuur wees.
02 November - RaDAR kompetisie 14:00 – 18:00 UTC.
30 November - Hlansering van Klerksdorp lughawe tussen 06:00 en 08:00.
30 November - SARL@Home by die Nasionale Amateurradiosentrum.
31 Desember - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo, besonderhede verkrygbaar by www.amateurradio.org.za.
28 Februarie 2014 – Sluitingsdatum vir Leerling Opstelkompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings deur Fritz Sutherland, ZS6FS, en saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003